Howick Geskiedenis // Wie is ons
ACK Howick Geskiedenis
Eerste Afrikaanse bediening in Howick
Afrikaanse bediening in Howick het in 1998 begin toe Dr. Stanley Theron met dienste vir ‘n groepie Afrikaanssprekendes in die Howick omgewing begin het. Kort na die stigting van die ACK in die North Shore was die Onafhanklike Gereformeerde kerk van Howick gestig en eredienste is elke Sondag deur Dr. Stanley Theron gelei. Dr. Theron het slegs as konsulent opgetree omdat hy nog steeds leraar van die NG gemeente Pretoria Tuine was. ‘n Paar gesinne woonagtig in Howick omgewing was toe reeds by die ACK op die North Shore ingeskakel.
Howick bediening word deel van die ACK
Kort nadat die ACK North Shore Ds. Gawie Cloete as hulle eerste voltydse leraar aangestel het, is onderhandelinge met die Onafhanklike Gereformeerde Kerk van Howick begin oor die moontlikheid van samesmelting. Daar was sterk gevoel dat daar nie twee kerkverbande hoef te wees nie en dat een Afrikaanse kerk werkbaar is. Na baie onderhandelings is die ideaal bereik en op 10 September 2000 smelt die twee kerke saam. Voortaan sou dit een kerk wees met die naam: Afrikaanse Christen Kerk van Nieu Seeland. North Shore en Howick was bedryf as een gemeente met twee preekpunte onder bestuur van een gesamentlike kerkraad. Ds Cloete het elke Sondag by beide preekpunte gepreek.
Dienste in Howick het aanvanklik by die biblioteek begin, toe in die Sewendedagse Adventiste Kerk, toe in die Te-Tui sentrum en tans in die skoolsaal van die Bucklands Beach Primêre skool.
Toe ACK lidmaat getalle in 2002 aan die 600 begin raak, het die kerkraad begin dink aan ‘n tweede voltydse leraar. Dr. Stephan Joubert van die Universiteit van Pretoria word beroep en word bevestig in Oktober 2002 as die tweede leraar van die ACK North Shore. Alhoewel Dr Joubert die ACK North Shore se tweede leraar was, was hy die eerste leraar wat in die Howick omgewing woonagtig was en dit het ’n groot impak op bediening in Howick gehad. Ds Cloete en Dr Joubert het die werk in die gemeente verdeel en albei het beide preekpunte bedien.
Na ‘n kort verblyf van 11 maande vertrek Dr. Joubert en sy gesin terug na Suid Afrika en Ds. Johan Lötter, wat op daardie stadium in ‘n Presbiteriaanse gemeente in Auckland gedien het, is beroep en op 1 Desember 2003 bevestig. Ds Lötter was ook woonagtig in Howick en tydens sy bediening is besluit dat die twee leraars elk ’n preekpunt sal bedien met kanselruiling as die enigste betrokkenheid by die ander preekpunt. Hierdie reeling het ’n positiewe uitwerking gehad omdat die leraars minder deur die stad moes reis tussen preekpunte, en gemeentelede van elke preekpunt het meer ’n gevoel van eie indentiteit gehad. Daar is ook in hierdie tyd besluit om ’n bestuursraad te kies wat die ACK North Shore se gemeenskaplike sake bestuur terwyl elke preekpunt sy eie plaaslike kerkraad verkies om die preekpunt se huishoudelike sake te bestuur.
Howick Preekstoel
Die Howick kerkraad besluit die gemeente moet sy eie preekstoel kry en ‘n ontwerp van Titus Bruin is goedgekeur. Steph Hugo het die hout geskenk en Johan van Niekerk het die preekstoel gebou. Die pragtige preekstoel is in 2005 in gebruik geneem.
Howick word ‘n onafhanklike gemeente
Die North Shore en Howick preekpunte het in die tweede helfte van 2005 begin om die moontlikheid te ondersoek dat Howick ’n onafhanklike gemeente kon word. Die besluit was goedgekeur en Howick gemeente is op 2 April 2006 gestig met ongeveer 380 lidmate. Die gemeente het op die dag ‘n tydkapsule gemaak wat onder sorg van die skriba geplaas is om te bewaar vir die nageslag. Ds Lotter het intussen bedank om na Suid Afrika terug te keer en is Ds Louis Fourie as die eerste voltydse leraar van die ACK Howick bevestig.
Howick Gemeente Visie
ACK Howick het vroeg in 2007 besluit om ’n nuwe visie daar te stel wat die uniekheid van Howick onder die sambreel van die groter ACK weerspeel. Hierdie visie sou nie die groter ACK se visie vervang nie, maar die wil van die Here vir Howick as unieke gemeente uitbeeld. Daar is besluit om visionering ’n geestelike
proses te maak en die Here se wil vir die gemeente te soek deur deelname, gebed, woordbediening en bybelstudie. Op 25 Nov 2007 is ACK Howick se nuwe visie, “Liefdevolle ligdraers vir ons stad en sy mense“, deur die gemeente goedgekeur. Hierdie visie is word ook weerspeel in die nuwe gemeente embleem.
Tweede voltydse leraar
Ds Louis Fourie het einde 2008 uit die ACK bedank en nadat die gemeente vir ‘n jaar van aflos predikers gebruik gemaak het is Ds Freek Terblanche, vanaf Alexandria in die Oos Kaap, op 15 Nov 09 as tweede voltydse leraar van ACK Howick aangestel.
Howick Leraar Tydlyn
1998 – Sep 00 Dr Stanley Theron (konsulent vanaf NGK Pretoria Tuine )
Sep 00 – Okt 02 Ds Gawie Cloete (ACK North Shore)
Okt 02 – Des 03 Ds Gawie Cloete / Dr Stephan Joubert (ACK North Shore)
Des 03 – Apr 06 Ds Johan Lötter (ACK North Shore)
Apr 06 – Jul 06 Ds Louis Fourie (kontrak leraar vanaf Pretoria)
Aug 06 – Nov 09 Ds Louis Fourie (Eerste voltydse leraar)
Des 08 – Nov 09 Gemeente sonder leraar
Nov 09 – Tans Ds Freek Terblanche (Tweede voltydse leraar)